Jy het my meer gegee as die blou van jou oë:
ook die meerblou lug tussen wit wolke-oewers het
myne geword,
die dromerige rookblou van ver rante,
die pêrelblou van die skemering
en die roekelose blou van ’n blom tussen groen gras.
Jy het my meer gegee as die beroering van jou hande:
die lug het teerder om my gevloei,
die aand het my inniger as voorheen ontvang in sy
koele omhelsing
en die wind het gaan lê op my bors.
Jy het my meer gegee as die besorgdheid van jou stem:
die bome het hul takke behoedsaam geneig
en die sterre het hulle rondom geskaar soos wagte.
Jy het my meer gegee as die drang van jou bloed:
die warm krag van die aarde het deur my gestroom,
die sap wat lentebotsels uitstoot het gepols in my are
en die Ewige Lewe het ontkiem in my skoot.
Jy het my meer gegee as die droom van een nag:
al die verlore drome van my kindertyd het teruggekeer
en in my oë het jy sterre aangesteek,
te helder om te vlug vir die daglig.
Alles wat ek verloor het en veel wat nog ongevonde
was, het jy my gegee.
Jy het my meer gegee as jou liefde:
die guns en die liefde van God.

